Tuesday 28 July 2015

Vergenoegdheid

Fil.4:11 - Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.

Ek het geleer om vergenoegd te wees met die omstandighede waarin ek is.....

Jeremiah Burroughs, 'n Puritein beskryf vergenoegdheid as volg:
" It is a sweet, inward, quiet, gracious frame of spirit, which freely submits to and delights in God's wise and fatherly disposal in every condition. It is sweet, it is inward, it is a heart-thing and God works it indoors.”

Ons lees ook hiervan in Spreuke 14:14 (’n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon; ’n goeie mens ontvang meer as sy beloning); 1Tim 6:.6-8 (Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees); Heb.13:5 (Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie”); 1Pet.3:4 (Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het  by God groot waarde).

Vergenoegdheid is dus iets waarna ons moet smag, want dit verheerlik God! Burroughs sê dis 'n innerlike vrede en 'n gesindheid van rustige stilwees. Hierdie gesindheid kan gesien word in die volgende:
   1.      Tugtiging:  Wanneer ek deur God getugtig word, weerstaan ek dit nie, maar ek leer daaruit wat ek moet vlg. Heb.12:5-8.
   2.      Kla: Wanneer ek kla, teenoor God en my vriende doen ek dit op die regte manier. Dawid is 'n baie goeie voorbeeld hiervan bv. in Psalm 42. Hy sê dat trane sy spys is elke dag en in Psalm 43 sê hy: U is my toevlug, Here; waarom verstoot U my? Ons mag klae, maar dan moet ons dit op die regte manier en met die regte gesindheid doen. Ons gesindheid moet spreek van totale onderwerping aan God, dis waarom Dawid dan ook in hierdie Psalms met homself praat en sê: "wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my"?
   3.      Oplossings: 'n Sagte en stil gees staan nie teenoor die soek van oplossings nie, maar dit gaan weereens oor die gesindheid waarin die oplossings gesoek word.
   4.      Onrus: 'n Sagte en stil gees is sonder woede, ongeduld en bitterheid en raak nie ontsteld nie, maar kom tot rus by God - Psalm 37.
   5.      Bekommernis: Die regte gesindheid impliseer ook verder dat ek my nie bekommer nie, maar my bekommernis aan die Here oorlaat volgens Fil.4:6-7.  Die volgende Skrifgedeelte 1Joh. 4:18 gaan selfs verder deur te sê dat die ware liefde dryf die vrees uit, want vrees sluit straf in..... Dit impliseer dat wanneer ek God liefhet, ek volkome sekuur sal wees, ongeag wat oor my pad kom. Ek sal selfs nie vrees vir wat God in my lewe kan of moet doen nie. Ek sal m.a.w dit nie vrees wanneer God dit nodig ag om my te tugtig nie.
   6.      Ontmoediging: 2  Kon. 7:2 Al sou die Here die vensters van die hemel open...... Die Here wil hê dat ons Hom sal vertrou, ongeag die omstandighede. Wanneer ons God nie kan vertrou met onmoontlike omstandighede nie, het ons nie 'n sagte en stil gees nie en is ons ook nie vergenoeg nie.
   7.      Ontvlug: Saul gaan na die heks van Endor. Ek sal enige iets doen solank ek net kan ontvlug van my omstandighede. Rebekka en Jacob maak hul eie planne   net soos Sarah en probeer om God te "help" om Sy wil uit te voer. Dit wil oënskynlik voorkom asof die Here vergeet het, wat Hy beloof het.
   8.      Opstand: Here, hoekom ek? Here, hoekom nou? Here, ek kan nie meer nie............ Ons mag dit dalk nie sê nie, maar die gedagte mag by ons opkom dat  daar nog nooit iemand was wat so swaar gekry het nie.


Vergenoegdheid kom vanuit 'n totale rus en vertroue in die Here. 'n Gesindheid wat sê: "Ek loof die Here in hierdie omstandighede, ek is rustig met wat ookal met my gebeur, want God is in beheer hiervan.” Hy is nie net in beheer hiervan nie, maar Hy is ook betrokke hierin in Sy volmaakte wysheid en liefde. Dit is om  wat Dawid  in Psalm 42 gebid het, te bid. O, my siel waarom is jy onrustig in my, hoop op God.

No comments:

Post a Comment