Monday 12 October 2015

Homoseksualisme

Vir ons Gemeente se standpunt t.o.v. Homoseksualisme sien:
http://3riversbaptist.co.za/homoseksualisme/ 
of lees hiernaas:

HOMOSEKSUALISME
Drie Riviere Baptiste Kerk se standpunt:

     Volgens die Skrif is homoseksuele gedrag teen die skeppingsorde (“contra naturam”). God het die heteroseksuele monogame huwelik ingestel as die ruimte waarbinne seksualiteit moet plaasvind. Daarom moet enige vorm van homoseksuele gedrag en dus ook die sogenaamde homoseksuele huwelik deur die Christelike Kerk afgewys word. Persone wat ‘n homoseksuele lyfwyse beoefen, het die verantwoordelikheid om hulle te weerhou van homoseksuele gedrag net soos alle ander mense ten opsigte van hulle gebroke menslike natuur selfbeheersing te beoefen. Hierdie is dan ook die standpunt van SOLA 5 soos verklaar onder punt 9 van hulle Geloofsbelydenis.

     Vanweë die feit dat homoseksuele gedrag “contra naturam” is, kan die Christelike Kerk (en derhalwe die Christelike etiek), nie enige legitimiteit verleen aan ’n homoseksuele verhouding of ’n homoseksuele huwelik nie.

     Dit is verder ons mening dat die wetlike herdefiniëring van die huwelik tot ’n verbintenis wat mense van dieselfde geslag kan insluit, verreikende gevolge vir ons samelewing inhou. Dit sal beteken dat homoseksuele egpare ook kinders wetlik mag aanneem en grootmaak. Volgens ons kan ’n homoseksuele huwelik nie ’n ruimte bied waarin kinders natuurlik opgevoed kan word nie, aangesien studies reeds bewys het dat kinders leiding van ouers van beide geslagte nodig het. Sodanige herdefiniëring van die huwelik sal eerder tot verdere abnormaliteite in ons samelewing lei, wat reeds swaar getref word deur die verbrokkeling van familie- en gesinsnetwerke.

     Die “reg op seksuele oriëntasie” ingevolge artikel 9 van die Grondwet laat ook ruimte toe vir die toekomstige wettiging van poligamiese huwelike en ander verbintenisse.

     Volgens die gedragswetenskappe is die “homoseksuele oriëntering” van “kern- of egte homoseksueles” nie veranderbaar nie en is hierdie oriëntasie o.a. geleë in ’n bepaalde verlies in die ontwikkelingsfases gedurende die kinderjare. Hiermee stem ons hoegenaamd nie saam nie en behalwe dat so ‘n standpunt onbybels is, is dit gewoon ‘n growwe aanname, aangesien so ‘n stelling nog nooit deur enige navorsing bewys kon word nie en ons is van mening dat dit ook nooit bewys sal kan word nie (hou “contra naturam” hier in gedagte).

     Ons as glowiges en derhalwe die kerk van die Here Jesus Christus, moet homoseksuele met Christelike liefde en pastorale deernis begelei om hom/haar te bekeer van hierdie onbybelse leefwyse en Jesus Christus as Verlosser na te volg. Dit is nog nooit en kan ook nie bewys word dat ‘n homoseksuele persoon as homoseksueel gebore word nie, of dan soos dit in die omgangstaal bekend staan, dat hy/sy met ‘n “homoseksuele oriëntasie” gebore word nie – homoseksueles kies dus om ‘n homoseksuele leefwyse en derhalwe ‘n onbybelse leefwyse na te volg en daarom moet en kan so ‘n person hom/haar van ‘n sondige homoseksuele leefwyse en –verhoudings bekeer.

     Omdat die huwelik ‘n instelling van die Drie-Enige en Heilige God is (Gen.1:27-28) en derhalwe ‘n lewenslange verbondseenheid tussen een “natuurlike man” en een “natuurlike vrou” is en wat in die openbaar en formeel voor God gesluit word, is die huwelik slegs ’n heteroseksuele verbintenis (Matt.19:4-6) en kan ’n homoseksuele huwelik of “wettige” homoseksuele verbintenis (beide aanvaarbaar volgens ons landswette) nie in die Christelike Kerk en -etiek as ’n fundamentale reg beskou word nie en het alle persone op grond van die Woord van die Here, die verantwoordelikheid om hulle te weerhou van enige vorm van homoseksuele gedrag en kan hulle nie aanspraak maak op die “reg” van “’n homoseksuele huwelik” nie. In die lig hiervan en die res van hierdie verklaring, sal ons voorganger wat ook ‘n huweliksbevestiger volgens die landswette is, nie homoseksuele “paartjies” in die eg verbind nie (al sou dit die terugtrekking van sy lisensie impliseer).

     Ons as gemeente verklaar dat ons enige persoon of persone wat ’n homoseksuele leefwyse navolg, volledig menslik sal behandel in en buite die kerk (soos enige ander ongelowige, maar sonder die voorreg wat gelowiges in die Kerk kan geniet – bv. die gebruik van die Nagmaal; lidmaatskap ens.), omdat ons homofobiese gedrag en ook ander diskriminasie teen ongeredde persone, insluitend dus, mense wat ’n homoseksuele leefwyse beoefen, beskou as strydig met die liefdesgebod en dus oneties is. Daarom is en sal alle ongeredde (insluitende dus homoseksuele) altyd welkom wees om eredienste, Bybelstudies, ens. by te woon, mits dit geskied in onderwerping aan die gemeente se etos, geloofsoortuigings, die gesag wat in die leierskap gesetel, ens.

     Ons as gemeente sal ook altyd in liefde optree teenoor homoseksuele persone, omdat ons homofobiese gedrag en ook ander diskriminasie teen persone wat ’n homoseksuele leefwyse beoefen, beskou as strydig met die liefdesgebod en dus oneties is.


     Die gelowige persoon wat vantevore ’n homoseksuele lewe gevoer het en hom/haar ten volle daarvan bekeer het en Jesus Christus as Verlosser navolg, kan na die aanvaarding van die voorwaardes vir lidmaatskap en na instemming van die gemeente dat so ‘n broer/suster lidmaat kan word (sien ons gemeente se Konstitusie en voorwaardes vir lidmaatskap) as volle lid van die gemeente hanteer en aanvaar word en sal daarna, dieselfde regte en voorregte as enige ander gelowige lidmaat geniet.


No comments:

Post a Comment